Koolslaai - ‘n armmans soesji
Koolslaai is so lekker maklike slaai, en verskyn met baie hoë frekwensie op ons aandete bord. Juis daarom het ons hom nou al ‘n paar variasies gegee:
Ons het die slaai 'n baie meer aantreklike deelnemer gemaak, komkommer bygevoeg, appel of pynappel ingemeng, en sonneblomsaad werk ook baie goed. Maar dit is die nuutste byvoeging - eintlik deur my man gedoen - wat tot hierdie idee gelei het! Die oomblik toe sojasous bygevoeg word het ek geweet, hierdie kan mos werk vir soesji! Doen dit so:
Koolslaai in ‘n rol
- 1 klein koolkop (pers kool sorg vir mooi kleur)
- 3 wortels gerasper
- 1 groot beet (of 2 kleintjies), gerasper
- mayonaise
- ryspapier
- sesamisaad - in ‘n platbord gestrooi
- Sojasous
- ingelegde gemmer (opsioneel)
Metode:
- Sny die kool met ‘n skerp mes in stroke (gerasper is die tekstuur net te veel soos die wortels en beet).
- Week 2 sirkels ryspapier in water vir +/- 1 minuut totdat dit begin sag word.
- Plaas die ryspapiersirkels presies opmekaar in ‘n bord en vul met beet. wortels en kool deur ‘n strook in die middel te vorm - moenie te vol maak nie want die ryspapier skeur maklik, maar vol genoeg dat dit ‘n stewige rol vorm.
- Draai versigtig, maar styf toe.
- Rol in die sesamisaad en sny dan in skywe.
- spuit ‘n blerts mayonaise op en rond af met nog saad.
- Bedien met sojasous en ingelegde gemmer.
Foto: Esmé Joubert