Nou kom ons wees eerlik met mekaar… Vrugtekoek is heerlik, maar na die oordosis wat ek eiehandig
in my mond steek oor so feestydperk, kan selfs ek die perk bereik waar vrugtekoek sy fleur verloor. Dit was juis hierdie gesprek wat opgekom het tydens ‘n kuiersessie van kerstydtradisies. Wat maak jy met die vrugtekoek om dit nog so bietjie langer gewild te hou nadat daar ongediskrimineerd getand is oor kersfees?
Ja, mens kan die koek vir baie lank bêre, en selfs vries - maar wat daarvan as ons dit ‘n tweede asem gee vir die res van die vakansie - of selfs later as ons almal saamgesels met heimwee oor die heerlike Desember wat skielik in Januarie so ver voel? Ons maak roomys daarmee! Ja, roomys wat jy kan maak selfs al kamp jy - solank jy net plek in jou vrieskas het! Jy het glad nie ‘n roomysmaker nodig nie, net ‘n lekker mengbak en die volgende:
500ml styfgeklopde room
1 blikkie kondensmelk
1k vla
2t kaneel
1 eiergeel
1t vanilla
1½ k vrugtekoek
Metode:
Sny die vrugtekoek in klein blokkies of krummel
Meng al die bestanddele saam - voeg die vrugtekoek laaste by - en meng goed.
Plaas in die bak waarin jy dit gaan wil opdien, en vries vir minimum 5 ure.