Omdat dit nie so soet is soos gewone botterversiersel nie, maak ek gereeld die malvalekker versiersel,
maar ek vind elke keer dat hierdie ekonomiese versiersel selfs baie meer voortbring as wat my kolwyntjies kan dra… so hoekom nie die malvalekker inspan as vinnige nagereg, of mooi soetbordjie nie? Plant dit saam met vetplantjies uit die tuin in sjokoladegrond dan het jy nie net ‘n mooi gereg nie, maar ook heerlike verskillende teksture.
Geskroeide malvalekker in sjokoladegrond
Bestanddele:
Sjokoladegrond:
70g Sjokolade (donker of melk)
100g strooisuiker
30ml water
Malvalekker:
- 160g suiker
- 90ml water
- 2 eierwitte
- 2ml kremetart
- 2ml sout
- 5ml vanieljegeursel (of ander geursel na keuse)
- 20ml gelatien
- 30ml water
Metode:
Sjokoladegrond:
- Verhit die suiker en water in ‘n pot - hou die deksel op om te help dat kristalle nie aan die kante vorm nie. En moenie laat kook voordat al die suiker nie gesmelt is nie.
- Kap die sjokolade in vingernaelgrootte stukke
- Wanneer die suiker 130°C bereik (suiker is gesmelt en die kleur verander na ligte karamel), haal van die hitte af
- Gooi die sjokolade by die suiker en roer BAIE VINNIG met ‘n draadmenger - maak seker al die sjokolade is bedek met suiker tydens die roer. Meng so vir omtrent 2 minute.
- Strooi die grond op die opdienbord
- Hierdie mengsel kan in ‘n lugdigte houer vir maande stoor.
Malvalekker:
- Strooi die gelatien oor die 30ml water en laat spons.
- Oor lae hitte, verhit die res van die bestanddele totdat die suiker gesmelt is - moenie laat die eierwitte stol nie, roer vinnig met draadmenger. (jy kan ook ‘n dubbelkoker gebruik)
- Wanneer die suiker volledig gesmelt is verplaas na mengbak van elektriese menger en klits op hoë spoed.
- Smelt die gesponsde gelatien in die warm pot - moenie kook nie - en voeg by die eiermengsel terwyl dit klits
- Klits totdat stywe punt vorm en die mengsel blink. Maar hou dop dat jy ophou klits voordat die gelatien stol.
- Werk vinnig, skep van die malvalekker in ‘n spuitsak met verlangde punt en spuit ‘hopies’ mavlalekker op die voorbereide sjokoladegrond.
- Skroei die malvalekker met jou kombuis steekvlam (blowtorch)..
- Versier deur vetplantjies van keuse tussenin te plaas.