Coffee Milk Tart

Coffee Milk Tart

Nasionale Melktert Liefde

Dit is die maand van liefde en almal se gedagtes is rooi en wit, maar vir my is Februarie 'n spesiale maand. Nie net is dit my geboortemaand nie, maar dit is ook Nasionale Melktertdag op 27 Februarie! En ek is absoluut mal oor melktert! Ken jy die melkterttradisie? Op hierdie dag bak jy jou melktert en gee hom vir iemand wat jy dink 'n melktert nodig het. Dit kan die bure wees met wie jy al lankal wou ontmoet, of 'n vriendin wat nodig het om te weet jy dink aan haar. of sommer net 'n rede om saam met iemand koffie te drink. So dit pas so goed by die maand van liefde, van deel en omgee wie wil nie deel wees van Nasionale Melktertdag nie!

Ek is baie trots dat my Doilie-melktert in die Melktertversameling van Mari-Louis Guy en Callie Maritz mag pryk! Hierdie span het die manier om enige gebak net so proffessioneel en afgerond deur te gee! Ek het nog ‘n lang pad van droom om op die helde se vlak te kom, maar deel wel my lank en uitgebreide weergawe van my koffiemelktert met julle! Want wat gaan nou beter by melktert as koffie?

Koffiemelktert

OOND TEMP: 180˚C en 200˚C

Aantal Porsies: 1 melktert

ALGEMENE inligting: die melktert is nie die gebakte melktert nie, maar ‘n spoggerige weergawe van die ongebakte melktert met hemelse koffie en nartjiegeure.

Bestanddele:

Koekiebasis (Maak net ½ aan):

250ml botter

2 Koppies suiker

6 Koppies meelblom

250ml melk

½  Koppie goue stroop

2 Eiers

5ml koeksoda

½ teelepel (5ml) fyn kaneel

½  Eetlepel (15ml) gemengde speserye

½ teelepel (5ml) neutmuskaat

½  teelepel (5ml) naeltjies

1ml sout

 

Melkpap (resep maak genoeg vir 2 terte):

600ml melk

3 eiers

100ml bruinsuiker

60ml mielieblom

50ml koekmeel

5ml vanielje-geursel

50g botter

3 nartjies se skil (gerasper)

 

Sjokoladeseëllaag:

250g wit sjokolade gesmelt

 

Filo:

1 pak (2 rolle) tot 2 pakke (4 rolle)

250g botter

20ml koffiepoeier aangemaak met net genoeg kookwater om ekstrak te vorm

60ml bruinsuiker

Kaneelstroop (opsioneel):

¾ k bruinsuiker

60ml suiker

2.5ml kaneel

Proses:

Die koekiebasis:

  • Voorverhit oond op 180˚C.
  • Meng die botter deeglik.
  • Voeg die suiker by en klop tot donsig.
  • Sif die droë bestanddele, behalwe die koeksoda, saam.
  • Klop die eiers goed saam met die melk.
  • Voeg droë bestanddele om die beurt met vloeistof by botter mengsel.
  • Roer stroop in.
  • Los die koeksoda in klein bietjie warm melk op.
  • Voeg by die deeg en meng deeglik.
  • Rol dun uit en sny sirkel met 21cm deursnit uit.
  • Bak in voorverhitte oond vir 15 minute tot goudbruin en krakerig.
  • Laat op afkoelrak afkoel

Maak die melkpap:

  • Plaas die melk en nartjieskil in kastrol oor matige hitte en verhit tot net-net voor kookpunt
  • Klits die eiers liggies by die suiker in
  • Voeg die mielieblom en meel by en meng totdat dit ‘n gladde pasta vorm
  • Giet die warm melk by die eiermengsel en roer met sterk hale vinnig deur
  • Plaas die mengsel terug op die stoof en roer aanhoudend tot die mengsel dik word en begin kook
  • Haal van die plaat af en voeg die vanielje-geursel en botter by – meng liggies deur
  • verkoel in spuitsak
  • Wanneer afgekoel:
  • Spuit 1 laag op koekiebasis met groot ronde punt, en laat so stol, herhaal nog 2 keer

Filofrille:

  • Stel oond nou op 200˚C.
  • Gebruik eers slegs 1 pak filo.
  • Gebruik ‘n 27cm koekring om die sirkels uit te merk op die filovelle
  • Knip uit met skêr (jy kan al die velle gelyk knip as die boonste gemerk is)
  • Sny die vol sirkels uit soos moontlik en half waar die vol sirkel nie in die vel inpas nie.
  • Merk met ‘n koppie ‘n klein sirkel in die middel van die groter sirkel en sny die klein sirkel ook uit om ‘n ringvorm te skep.
  • Sny die ring op een plek deur .
  • Bewaar onder ‘n klam lap en gebruik soos nodig in die proses.
  • Bou die frille so:
  • Meng die koffie-ekstrak en suiker totdat al die suiker opgelos is
  • Smelt die botter
  • Meng 15-30ml botter met koffiemengsel
  • Neem filo en verf met botter-koffiemengsel, verf net soos nodig in proses – moenie vooruit verf..
  • Gebruik  die sirkels om ‘n laag frille te vorm op ‘n silpat of bakpapier op ‘n oondplaat
  • Bak vir omtrent 5 minute terwyl die smeer en snyproses herhaal
  • Vul die botter-koffie mengsel met gesmelte botter aan soos nodig – sodat die laaste lae van die 3 de filokonstruksie so te sê geen koffie in die bottermengsel het nie – die kleur gaan dus van donker bruin in die onderste konstruksielae na ligbruin in dieboonste konstruksielae.
  • Haal uit en pak 2de laag en bak weer vir 5 minute en herhaal 6 keer
  • Laat op afkoellrak afkoel
  • Maak 3 van hierdie konstruksies
  • Wanneer melkpap gestol is, plaas filofrille versigtig op
  • Giet dun lagie wit sjokolade
  • Spuit knope melktertpap rondom in sirkel
  • Pak filo konstruksie 2
  • En herhaal totdat laaste filokonstruksie gepak is.

Geroosterde neute (opsioneel):

100g amandelvlokkies

  • Rooster neute in oondpan in voorverhitte oond by 200˚C vir omtrent 7 minute, rond koek se voete af met die neute

Stroop:

  • Smelt die suiker in die water sonder dat dit kook
  • Bring tot kook en laat effens verdik
  • Voeg kaneel by en laat meng – swaai pot om hitte en kaneel te versprei
  • Bedien saam met melktert

Print   Email
Image
© 2018 Wilandi Studio, All Right Reserved
© 2018 JoomShaper, All Right Reserved