Sjokolade kuier by Koffie

Sjokolade kuier by Koffie

Iewers na ‘n hele paar bekers koffie - meer as gewoonlik - het ek besluit om my liefde vir koffie na ‘n nuwe vlak te neem.

Koek en koffie is ‘n baie mooi paadjie om  te stap, maar ek het ontdek dit is ‘n reis vol opwindende ontdekkings. Ek nooi jou uit om saam met my te kom stap en te kuier, te leer en te eksperimenteer. Van koffieboontjie tot koffiebeker en alles wat lekker daarmee saamgaan. Hier gaan ons!

Kanya is in my kombuis.
So kom kuier Kanya by my en haar Sjokolade en my Koffie besluit toe om saam ‘n paar woeste eksperimente te pleeg. Die dinge wat uit die kombuis gekom het, het my kombuis skoon laat grootkop kry! Hy maak nou volwaardige toetskombuis geluide. Ek wens!

Tipies Tarentaalstyl het ons ook summier besluit om van die aksie en pret te deel. Ons het nie vreeslik tegnologie beskikbaar nie, maar ons het ons slimfone ingespan en met so bietjie hulp van ‘n vriendin wat kan foto’s neem, het ons ‘n paar videos geskiet. Natuurlik ook omdat ons bang was ons ontdek iets en kan later nie kan onthou hoe ons dit gedoen het nie. Want glo my,  dit was ‘n groot kuier en dinge het geskud in die kombuis. Ons het:

  • koffie-gemarineerde vleis in ‘n lap gerook;
  • koffie-en-sjokolade-pepersous gemaak;
  • ‘n ongelooflike koffiekaaskoek opgetower;
  • die oorskiet van ons vleisgeregte omskep in ‘n baie mooi middagete;
  • en nagereg gemaak met tuisgerookte sjokolade!
  • En ons kan dit als met julle deel! Maar waar begin mens vertel aan so lekker storie? By ‘n beker koffie natuurlik.


Hoe maak mens ‘n lekker bekker koffie?
Tydens die Koekedoorfinaal moes ons iets van onsself vertel wat niemand weet nie. Kanya het vertel dat sy nie kan koffie maak nie! En dis die reine waarheid. Kan jy dit glo?  Ek het net daar besluit dat dit nie so hoort nie. So, die heel eerste ding wat ek Kanya gewys tydens ons kuier gewys het, was hoe om ‘n goeie beker koffie te maak met behulp van ‘n ou staatmaker, die Koffiedompel.  Of, die French Press (of plunger soos wat baie hom noem). 

Hier is die video

Vir ingeval die video dinge bietjie onduidelik was met al die tarentaal aksie, hier is die metode weer.

Franse Koffiedompelpot koffie (plunger):

20g / 20ml (verkieslik vars) gemaalde koffiebone

300g / 300ml water

(1g koffie  - ook 1g water - is direk verwerkbaar na 1ml - dis nie so vir alles nie, maar koffie en water werk wel so.)

Kook water, en spoel die koffiedompel met ‘n bietjie daarvan uit om dit te verhit.

Giet die 300ml (300g) water in die dompel.

Meet die temperatuur (dit moet 93-96 grade Celsius wees) - by seevlak moet die water dus bietjie afkoel nadat dit gekook is, anders brand die koffie - vir die ander areas kook die water naby aan daardie temperatuur.

Strooi die gemaalde koffie oor, roer deur , plaas die druksif slegs bo-op en laat trek vir 4 minute.

Druk stadig af.

Skink en voeg melk en geur by na gelang.

Geniet!

Sorg dat jy jou koppie koffie reg het vir die volgende avontuur!

Tot dan.
Wilandi


Print   Email
Image
© 2018 Wilandi Studio, All Right Reserved
© 2018 JoomShaper, All Right Reserved