Die koue loer vir ons en as jy soos ek is begin mens mos soek vir enige rede om te kan sop maak…
Wel, daardie middag as jy by die huis kom, en jy besef dat jy nog niks vir aandete beplan het nie en jy het minder as ‘n half uur voordat die kinders se sirkel om jou vernou en jy omsingel is met “mamma, wat’s vir aandete ek is hommer…” Dis genoeg rede om hierdie sop te maak!
Bestanddele:
1 gekapte ui
5ml kerriepoeier
1kg skorsie - in stukke gesny
1 blikkie klappermelk
Metode:
Braai die ui en kerriepoeier in bietjie olie totdat ui deursigig is en kerriegeur ontwikkel het.
Voeg die skorsie by en bedek net-net met water (moenie die skorsie laat swem nie…)
Kook totdat die skorsie sag is en verpulp.
Voeg klappermelk by en meng goed.
Geur met sout en peper en bring dit op die planke met ‘n lekker snytjie brood en botter.